Potchefstroom Electronic Law Journal (Apr 2020)

'n Leë dop is soms beter as 'n halwe eier

  • Anel Gildenhuys

Journal volume & issue
Vol. 23

Abstract

Read online

Die volbank van die KwaZulu-Natal Hoë Hof, Durban is onlangs die geleentheid in Govender NO and Others v Gounden and Others 2019 2 SA 262 (KZN), gebied om artikel 15(3)(b)(iii) van die Wet op Huweliksgoedere 88 van 1984 in die lig van die Suid-Afrikaanse erfreg te interpreteer. Sodanige interpretasie was nodig ten einde te bepaal of ’n persoon wat in gemeenskap van goed getroud is, sy of haar gade se toestemming moet verkry ten einde op ’n geldige wyse ’n erfenis wat hom of haar en/of die gemeenskaplike boedel uit hoofde van die intestate erfreg toekom, te repudieer. Die volgende aspekte is deur beide die hof a quo (Gounden and Another v The Master of the High Court and Others [2015] ZAKZDHC 6) sowel as die volbank op appèl oorweeg, naamlik: (a) die tydstip waarop regte in die intestate erfgenaam vestig teenoor die tydstip waarop die erfenis self in die erfgenaam vestig; (b) die belang van bogenoemde vir die uitoefening van die erfgenaam se keuse tussen adiasie of repudiasie; en (c) die implikasies van bogenoemde op die gemeenskaplike boedel van gades wat in gemeenskap van goed getroud is, spesifiek met betrekking tot die vraag of ’n gade se toestemming nodig is om ’n erfenis te repudieer. Alhoewel die volbank die bevel van die hof a quo handhaaf, naamlik dat toestemming in hierdie geval nie nodig is nie, is dit egter weens uiteenlopende redes. Gevolglik is dit belangwekkend om kennis te neem van dié twee uitsprake se argumente/redenasies rakende bogenoemde aspekte.

Keywords