In die Skriflig (Jul 2013)

Die Christelike filosofie van H. Dooyeweerd (1894–1977) soos gerekonstrueer volgens Vollenhoven se probleem-historiese metode

  • B.J. van der Walt

DOI
Journal volume & issue
Vol. 47, no. 1
pp. 1 – 16

Abstract

Read online

Hierdie inleidende, oorsigtelike artikel is die derde in ’n reeks van drie in hierdie tydskrif. Die kort trilogie beoog om die grondleggers van ’n Christelike filosofie, naamlik D.H.Th. Vollenhoven (1892–1978), H.G. Stoker (1899–1993) en H. Dooyeweerd (1894–1977) bekend te stel. In hierdie bydrae word gepoog om die hooftrekke van Dooyeweerd se komplekse filosofiese ontwikkelingsgang te rekonstrueer met behulp van sy Nederlandse kollega, Vollenhoven, se probleem-historiese metode van wysgerige historiografie. Ter inleiding word belangrike agtergrondinligting oor hierdie internasionaal erkende Christelike denker gegee. Daar word ook daarop gewys dat Dooyeweerd en Vollenhoven aan die begin (1918–1922) dieselfde filosofiese standpunt (wat deur Vollenhoven ontwerp is) gehuldig het. Mettertyd het hulle filosofiese paaie egter verskillend ontwikkel en groot verskille het in hulle konsepsies ontstaan. In die tweede gedeelte word eerstens daarop gewys dat Vollenhoven asook verskeie van sy leerlinge lank tevore reeds monargianistiese tendense by Dooyeweerd vermoed het. Sedert 2010 suggereer navorsing dat Dooyeweerd se filosofie oor ’n periode van ongeveer 50 jaar deur ten minste die volgende drie verskillende fases ontwikkel het: 1918–1922 (kritiese realisme), 1923–1928 (semimistiek) en 1929–1977 (monistiese monargianisme). Met hierdie indeling as hipotese word daarna verskillende moontlike invloede op Dooyeweerd van binne die eie geesgenootlike kring sowel as daarbuite nagegaan. Laastens word enkele van sy uitstaande bydraes uitgelig. Op grond van ’n terugblik van al drie die bydraes in hierdie reeks, word ten slotte enkele opmerkings ten opsigte van die pad vorentoe gemaak.

Keywords