In die Skriflig (Jun 1999)
Christi Coetzee - ’n begaafde teoloog
Abstract
Dit is vir my ’n voorreg om ’n kort waarderingswoord te skryf oor my leermeester, vriend en kollega, Christi Coetzee. In die laat sewentigerjare het ek as teologiese student by die Teologiese Skool te Potchefstroom gesit aan die voete van prof. Christi, soos hy allerweë bekend is, en die Nuwe-Testamentiese wetenskap van hom geleer. Sedert 1989 was ek weer saam met hom by die Teologiese Skool, hierdie keer as kollega in die departement Nuwe-Testamentiese vakke. Om ’n mens se vroeëre leermeester later as kollega en as vriend te leer ken, is ’n vreugde wat vir min mense beskore is. Daarom is dit vir my ’n vreugde om, noudat hy in 1998 geëmeriteer het, ’n woord van waardering te skrywe.