Literator (Apr 2013)
Jong Suid-Afrikaners en kulturele (wan)praktyke: Verbreking van die stilte in onlangse prosa
Abstract
Hierdie artikel ontleed die uitbeelding van jong Suid-Afrikaners wat in ’n multikulturele konteks tot volwassenheid kom en vir hulself ’n moderne identiteit bou oor die klowe tussen – en binne – verskillende kulturele stelsels. Enersyds vereenselwig hulle hul met die globale Weste, en andersyds behoort hulle tot inheemse Afrika-kulture. Tegelykertyd besef hulle hoe hul geskaad is deur verworde kulturele gebruike. Postkoloniale teorieë oor identiteitsvorming – Said se siening van postimperialistiese kulture as hibried en heterogeen, Bhabha se ‘derde ruimte’ waar postkoloniale identiteite gevorm word deur onderhandeling en vertaling, Hall se teorie dat kulturele identiteit gebaseer is op verskille en diskontinuïteite eerder as op enersheid, De Kock se beeld van ’n ‘kulturele naat’ waar wydlopende kulture saamkom en verskille en ooreenkomste ‘saamgestik’ word, Nuttall se siening van kulturele verstrengeling en Clingman se siening van ’n oorganklike sintaksis van die self – word gebruik om te onthul hoe die vorming asook skending van jong Suid-Afrikaners deur inheemse kulturele instellings voorgestel word in hedendaagse prosa. As voorbeelde dien Adam Ashforth se boek, Madumo, oor geloof in toordery, Russell Kaschula en Gcina Mhlope se kortverhale, ‘Six teaspoons of sweetness’ en ‘Nokulunga’s wedding’, wat handel oor ukuthwala [Xhosa vroueroof] en Thando Mgqolozana se roman, A man who is not a man, oor die nagevolge van ’n verknoeide tradisionele besnyding. Die artikel voer aan dat verbeeldingryke selfrefleksie deur jongmense oor die kulture waardeur hulle gevorm – en misvorm – is, ’n blyk van die volwassewording van ’n postkoloniale en postapartheid letterkunde is.