Stellenbosch Papers in Linguistics Plus (Jun 2021)

ʼn Verbeterde leksikografiese dataverspreiding- en inligtings-onttrekkingstruktuur

  • Gouws, Rufus H.

DOI
https://doi.org/10.5842/61-0-913
Journal volume & issue
Vol. 61, no. 0

Abstract

Read online

Die dinamika in die leksikografie noop leksikograwe om voortdurend daarop bedag te wees dat veranderinge in hulle woordeboeke aangebring moet word. Hierdie veranderinge lê op die vlak van die woordeboekinhoud, die leksikografiese funksies asook die woordeboekstrukture. Die teikengebruikersgroep van elke woordeboek en hulle leksikografiese behoeftes en naslaanvaardighede moet deurgaans in gedagte gehou word. In hierdie artikel word verskillende aspekte van leksikografiese prosesse bespreek, met spesifieke verwysing na die aanpassing in dataverspreidingstrukture, die uitbreiding van soekplekke en die oorgang van woordeboeke vanaf die stootmedium na die trekmedium. Vir gedrukte woordeboeke word die benutting van ʼn semi-geïntegreerde mikrostruktuur voorgehou om ʼn beter onderskeid in die aanbieding van voorbeeldsinne en kollokasies moontlik te maak. Vir aanlyn woordeboeke is die pleidooi om die daarstelling van ʼn uitgebreide soekheelal asook die inwerkingstelling van ʼn datatrekkingstruktuur. So ʼn struktuur bied aan woordeboekgebruikers vanuit die woordeboek toegang tot onder meer die internet asook die korpus van die betrokke woordeboek. Woordeboeke verander van eindpuntbronne na tussengangerbronne. Dit bied veel meer moontlikhede aan gebruikers, onder andere taalpraktisyns, om naas die data, onder meer koteksaanduiders, in woordeboeke ook ander data en veral voorbeelde van natuurlike taalgebruik in die woordeboek-eksterne bronne te vind.

Keywords