Literator (May 2013)
Die beeld van afwesigheid en die politiek van naamgewing in Shona-oorlogsfiksie
Abstract
Tydens Zimbabwe se bevrydingsoorlog het duisende jong mense die grense van buurlande oorgesteek om wapens op te neem teen kolonialisme. Daar bestaan voldoende getuienis dat baie van hierdie jong mense vroulik was. Politieke retoriek het dit dan ook duidelik gemaak dat vroue saam met hul manlike eweknieë geveg het. In die Shona-literatuur wat Zimbabwe se guerrilla-oorlog uitbeeld is daar egter ’n skreiende afwesigheid van vroulike karakters wat die rolle van die guerrilla vegters uitbeeld. Hierdie artikel is ’n poging om hierdie beeld van afwesigheid te ontleed en te verduidelik waarom daar so min vroulike guerrillavegters in Shona-oorlogsfiksie voorkom. Die artikel argumenteer dat die skrywers van Shona-oorlogsromans dikwels die mondelinge volksverhaal waarin selde vroulike heldinne voorkom, voortgesit het. Daar word verder aangevoer dat in die werklike guerrilla-oorlog van die 1970’s vroulike guerrillavegters selde gesien is waar hulle voor in die oorlog geveg het; dat die pionier guerrillavegters mans was; en dat die manlike diskoers oor die oorlog vroue uitgesluit het. Bowendien het slegs mans Shona-oorlogsromans geskryf.
Keywords