Literator (Sep 2013)

Om die retor in postkoloniale Afrika-fiksie te lees: Armah se <i>Two thousand seasons</i> ter illustrasie

  • George Samiselo

DOI
https://doi.org/10.4102/lit.v34i1.430
Journal volume & issue
Vol. 34, no. 1
pp. e1 – e9

Abstract

Read online

Retors word binne postkoloniale Afrika-fiksie toenemend as ’n variant van die ekstra-diëgetiese verteller in die narratologie erken. Een voorbeeld hiervan is die gemeenskaplike stem. As middelpunt van die sosiale, geskiedkundige en politieke bewussyn, hou retors verskillende voordele in vir die skrywer. Ten spyte van retors se sterk aanwesigheid in postkoloniale Afrika-prosa, het kritici tot dusver min oor hierdie fassinerende narratiewe agent geskryf, oënskynlik omdat die ‘kanon’ van die Afrika-letterkunde, wat Lindfors beskryf het as die ‘long drums and canons’, die meeste aandag gekry het. Dit is wel bemoedigend dat ‘n ommeswaai aan die einde van die twintigste eeu plaasgevind het en dat kritici nou wel narratologiese kriteria op postkoloniale Afrika-fiksie begin toepas. Hierdie artikel teoretiseer die aanwending van die retor in Two thousand seasons deur aan te voer dat die retor ‘n bevoorregte posisie inneem danksy die ideologiese invloed wat hy uitoefen en die gesag van sy gesigspunt. Die artikel wil ’n bydrae lewer tot die bestudering van die narratologie in die Afrika-roman deur die aandag te vestig op die belangrikheid van die retoriese strategieë van die retor as agent in postkoloniale Afrika-fiksie. Hierdie artikel onderskryf dus ’n kritiese diskoers oor Afrika-tekste wat – in die woorde van Culler– ’n poëtika, die studie van die voorwaardes vir betekenis in postkoloniale Afrika-fiksie, uitmaak.