Stellenbosch Papers in Linguistics (Dec 2016)

Postulêre werkwoorde in Griekwa-Afrikaans – ʼn ondersoek vanuit ʼn grammatikaliseringsperspektief

  • Breed, Catharina Adriana

DOI
https://doi.org/10.5774/46-0-226
Journal volume & issue
Vol. 46, no. 0
pp. 1 – 24

Abstract

Read online

Die grammatikale funksie wat liggaamshoudingwerkwoorde, oftewel postulêre werkwoorde (spesifiek die werkwoorde sit, staan, lê en loop) in geskrewe Standaardafrikaans verrig, is taamlik omvattend beskryf in bestaande Afrikaanse taalkundenavorsing. Die postulêre werkwoord word algemeen in Afrikaans – net soos in Nederlands – aangewend om progressiewe betekenis uit te druk. Die vraag kan egter gevra word of dit op dieselfde wyse gebruik word in ander gebruikskontekste of variëteite van Afrikaans. Daar is immers reeds twee opvallende verskille in die wyse waarop Griekwa-Afrikaans, 'n streeksvariëteit van Afrikaans, en Standaardafrikaans, postulêre werkwoorde grammatikaal aanwend. Eerstens kan die bindingspartikel en uit die Griekwa-Afrikaanse VPOS en VINF-konstruksie weggelaat word, terwyl dit in Standaardafrikaans nie die geval is nie. Tweedens verskil die frekwensies van die postulêre werkwoorde in Standaardafrikaans en Griekwa-Afrikaans. Van die vier postulêre werkwoorde kom loop verreweg die meeste voor in Griekwa-Afrikaans, terwyl sit die mees frekwente grammatikale postulêre werkwoord in Standaardafrikaans is. Vanuit 'n grammatikaliseringsperspektief kan sowel die vormlike as die frekwensieverskil tussen die Standaardafrikaanse en Griekwa-Afrikaanse konstruksies 'n sterk aanduiding daarvan wees dat die werkwoorde nie tot dieselfde mate gegrammatikaliseer het in die twee variëteite nie. In hierdie artikel word daar derhalwe verder vanuit 'n grammatikaliseringsperspektief ondersoek ingestel na die moontlike verskillende grammatikale gebruike of aanwending van postulêre werkwoorde in gesproke Griekwa-Afrikaans en geskrewe Standaardafrikaans, om sodoende ter illustrasie aan te toon dat die bestaande beskrywing van die Standaardafrikaanse grammatikale postulêre konstruksie, nie voldoende is om ook te geld as 'n beskrywing van die konstruksie in niestandaardvariëteite van Afrikaans nie.

Keywords